My Storie

As kind, voor my skoolloopbaan begin het, onthou ek hoe my ma klavier gespeel het. Ek onthou nog hoe sy Mozart se ‘Rondo Alla Turca’ geoefen het – alhoewel sy dit later sou ontken…. Talente ‘begrawe’ ten spyte…

Haar musiekonderwyseres was Barbara van Wyk.

Uit die staanspoor het my ma verwag dat al haar kinders musiek moet beoefen en ek was geen uitsondering gewees nie. Deur my belangstelling in haar klavierspel, het sy my vinnig voor die klavier gekry en die basiese dinge geleer.

Tot my ‘spyt’ sou ek nog baie moes aanhoor dat dít wat ek speel, óf verkeerd, óf te vinnig was. Hiervan was toonlere seker die meeste….

Musieklesse by onderwysers het vinnig hierna gevolg, saam met UNISA eksamens – om tog net die ‘standaard’ reg te hou….

Op Hoërskool het ek aangegaan met musiek as vak en eindig toe op wonderbaarlike wyse by dieselfde Barbara van Wyk.

Op daardie stadium het ghitaar my tweede instrument geword.

Ná skool het my liefde vir musiek gegroei – alhoewel hoofsaaklik vir klassiekemusiek.

Ek het my ma se klavier oorgeneem, maar altyd ‘n leemte ervaar – dalk weens die ure se toonlere….

Ghitaar het al méér prominent geword, en daardie leemte gevul – saam die ontdekking van goeie rooiwyn…

Ná jare van ‘soeke’ na die ‘perfekte klank’, het ek Mervyn Davis ontmoet. Mervyn het vantevore by die Universiteit van P.E. gestudeer as argitek.  Mervyn se pa het instrumente gebou en hom geleer en deur sy studentejare heen, het hy die Universiteit se instrumente herstel en onderhou. Op daardie stadium was die hoof van die musiekdepartement….. niemand anders as…. Barbara van Wyk.

Gedurende 2008-2009 het Mervyn vir my ‘n klassieke ghitaar gebou, wat steeds, tot op hede, uitstaan bo die res, die skoonste klank het en ook die maklikste speel. Dit was ‘n nuwe avontuur, verrykende ervaringe en steeds ‘n groeiende passie vir musiek.

Baie dankie Ma, dankie Barbara en dankie Mervyn…

Ma Theron Barbara van Wyk Mervyn Davis